READ:

A SERIES OF POEMS BY FOURIE BOTHA



South African author, Fourie Botha, wrote a series of poems to accompany Morné Visagie’s solo exhibition at Nuweland, 2018. Botha dedicated a poem to each work.

Reading time approx. 00:05:00

Download text ︎︎︎
or
Continue ⟶





I. Papiermond

“I am a castaway, not a prisoner”

Die eiland het my tong geskeur.
Waar lê die taal vir soveel blou?
Hier is net vlakwater se kleur.
Dit is ons pa’s wat ons hier hou.







II. Fragment I, II (An Affair Below)

Druk teëls in asuur olie
maak nat die papier, strek
dit oor ou hout, monteer
hier vir ons ’n swembad.

(Onthou hoe ek op ’n keer
verby een van jou lovers ry
voor die Langstraatbaddens,
handdoek oor fyn skouers.)

Een nag tussen wakker
en slaap wil ek bel, skree
dis jou ouer, jou pa streeps-
gewys daar onder water.






III. There Are Gold Flecks in the Lapis, 2016
“waar die onverdeelbare blou
bly aanhou hou tót by die oesterbanke”

’n Honderd dae lank:
daagliks ’n vierkantjie
kleur op jou BlackBerry.

“busstopblou”
“alarmblou”
“emmerblou”

Jy hou boek,
katalogiseer,
benommer die spulletjie.

“tupperwareblou”
“potblou”
“confidentialpayslipblou”

Titteleer jou telefoon
smorens: ’n geskakeerde
dance of the seven veils.

“ondermykombersblou”
“stasoftblou”
“onderbroekblou”

Hierna meng jy elkeen
met ’n reseppie –  bietjie van dit,
bietjie van dat – en siedaar:

“plakkaatblou”
“Kentridgeblou”
“Joburgartfairblou”

(Wyl bitterbekek wonder:
Wanneer dan
die blue movie?)

Ná 100 dae én ’n kunswerk
is dié ouskool stripteaze op ’n end
en steeds ongemeng:

“ekhouvanjoublou”
“houvanmyookblou”
“ekisblouoorjoublou”






Nr. 67 (“Kentridgeblou”)
“Chance had cast me on his island,
chance had thrown me in his arms”

’n Duifblou seël vir jou gestuur.
’n Berggansveer kon ek nie kry.
Monteer dit maar hier teen jou muur,
’n moordkuil vir jou galery.






IV. Kom op vir lig
“If we could dive to the wreck even now ...
we might save from it tools of the greatest utility.”

Deur indigo dieptes, ’n pêrel
lug teen adamsappelboom gehou.
Terug teug ek ’n honderd soorte blou,
kleur die ademlose see se vel.







V. Die walvis

“the wild and distant seas where he roled his island bulk”

Wees nie bevrees nie, neurie jy;
laat my hierna toe om jou
meters hoë harpsmoel te bepluk.

Ek streel oor die baleine,
kielie hulle soos die katdermsnare
van ’n Bybelse mandolien.

Hoe alom is jy nie, oudste,
jy met die traanoë, hoe kolossaal
die skipbreukboog deur soutsoppe.

Maar jou buitewaterbuiging
is ’n danser s’n. Jou gehoor bid
die pirouette was vir luisige ons.

Want lig wil ons ook wees, so lig
soos ’n lugborrel in glas.

Sluk my in, oudste, laat ek afklim
teen die touleer van jou gorrel
na spilonke, sale, troonkamers

van moes gewees het.

Vat my saam, los my nie hier
hoog en droog onder Jona
se olienhoutboom vaal van die stof.

Die wurmpie is reeds ontplooi,
tokkel op sy bandolientjie
’n eie mankolieke deuntjie.






VI. Nie die storie van die eiland nie


Die
storie
van die
boykie
is nie
die
storie
van die
eiland nie:

I do not wish to hear your desire,” said Cruso. “It concerns other things, it does not concern the island, it is not a matter of the island.”

Die
keer
toe jy die
staaldeur van die
buitetoilet oopstoot die
man vierkant voël-in-die-hand sien pie
alles wit word soos ’n geweerskoot, ook nie
jou pa se swembad vol dooie meeue tydens besoeke daarna nie.






VII. Kyk ’n mens na jou, kyk jy deur water
A Travel Journal, Vol. 1

op    op

slaan die seeswemmer

pêrelduiker

            snorkelaar van perlemoen

sinkende

drenkeling

sweetnatlover

sy oë

            óp

na die blad waarvandaan

           lig knipper

die bloue wis

hoe ver nog

          die bo se wimpers

bo die tyddun

oppervlak

            is








VIII. Aan wal, ’n nawoord
“the nack of seeing waves
where there are fields before your eyes”

my walvis dryf aan oor vlaktes
’n lugballon oor kappadosië
golwings die gesing van grasse
’n swart swerm bye heuning
in my ore     wit klingel hier
en geel     nikse gebloue nie
wanneer die oue my eindelik
uitspoeg in versonne hitte